14/08/2026
Party vriendskappe begin so vroeg dat jy later nie meer kan onthou waar die een mens opgehou het en die tyd self begin het nie.
Jy onthou 'n skoolhemp, 'n naam wat teen 'n bank gekrap is, iemand wat langs jou gestap het huis toe, 'n grappie wat vir twintig jaar oorleef het sonder dat dit ooit eintlik snaaks was. Jy onthou gesigte van toe almal nog dunner, dommer en baie meer seker was hulle weet hoe die lewe gaan werk.
Daardie mense raak deel van jou sonder toestemming.
Later trou almal, trek, werk, kry kinders, verloor hare, kry maag, kry probleme, raak besig. Die gesprekke word minder. Die kuiers gebeur verder uitmekaar. Niemand is kwaad vir niemand nie. Die lewe kom sit net tussen mense wat eens elke dag geweet het wat in mekaar se wêreld aangaan.
Ek is skuldig daaraan.
Ek kan myself baie maklik oortuig dat ek net eers deur hierdie week moet kom. Dat ek later sal bel. Dat ons daardie koffie sal drink wanneer dinge rustiger raak. Intussen raak 'n maand drie maande en drie maande word 'n jaar sonder dat iemand ooit besluit het om weg te beweeg.
Dis juis dit wat my pla.
Hoe min drama daar nodig is vir mense om stilletjies minder deel van mekaar se lewens te word.
Party vriendskappe is soos blomme wat reeds op skool in jou hart se tuin geplant is. Jy kyk nie elke dag of hulle nog daar is nie. Jy aanvaar maar hulle blom iewers. Jy ken hulle plek. Jy weet hoe lank hulle al staan.
Dan word daar een gepluk.
Later nog een.
Daai oop kolle bly jou oog vang.
Dis nou te laat.
Skielik onthou jy 'n middag van twintig jaar terug beter as wat jy onthou wat jy verlede Dinsdag gedoen het.
Iemand se lag kom terug.
'n Bynaam.
'n Ou storie.
Daardie een vriend wat altyd presies geweet het watter deel van jou hy moet terg om jou binne tien sekondes kwaad te kry.
Daar is dae wat ek d**k aan hoeveel keer ek "ons moet 'n slag" gesê het.
Dis seker een van die hartseerste sinne wat ons heeltemal onskuldig gebruik.
Ons bedoel dit wanneer ons dit sê.
Ons glo werklik daar gaan nog 'n slag wees.
Ek wil minder slim wees met tyd.
As ek iemand mis, wil ek probeer bel.
As 'n ou vriend vra vir koffie, wil ek nie altyd eers my hele lewe raadpleeg om te besluit of daar plek vir hom is nie.
Party dinge behoort nie 'n afspraak drie weke vooruit nodig te hê nie.
Mens weet nooit watter gewone kuier later die een gaan wees waarna jy terugverlang nie.
Dalk was niemand mooi aangetrek nie.
Dalk het niemand 'n foto geneem nie.
Dalk was daar niks besonders om te onthou nie, behalwe dat almal nog daar was.
Ek d**k dis die deel wat my nou bybly.
Nie dat die lewe kort is nie. Ons hoor dit genoeg.
Dat mense nie vir altyd op dieselfde plek in jou lewe bly staan net omdat jy hulle daar liefgekry het nie.
Daardie tuin in jou hart word nie op een dag leeg nie.
Dis stiller as dit.
Een blom.
Een oop kol.
Nog een.
Nog een.
Eendag gaan jy terugkyk en besef jy sou baie dinge gee vir nog een doodgewone middag toe almal nog daar was.
Ek wil nie eendag net mooi kan onthou wie my mense was nie.
Ek wil hulle beter ken terwyl hulle nog is.
©️ -edb- 2026
(So, 1991 Frikkie-vriende stuur asb DM met jou nommer of e-pos en ons tel drade op - ou vriende of te "not")