04/04/2019
Voel jy soos ‘n slegte mamma vandag?
(Deel gerus met elke mamma)
Jip, jy is die mamma wat vanoggend soos ‘n opgewarmde gasbottel al skellende by die voordeur uit is. Vir kort oomblikke het dit vir jou gevoel : “THAT’S IT! Ek is klaar...” Al is dit net die derde dag van die nuwe kwartaal, kan dit net sowel die einde van die vierdie kwartaal wees. En dan begin d**k jy: “hoekom voel ek dan soos daai mamma wat net skel en perform? Is ek ‘n slegte ma?”
Net omdat jy nie perfek gemanikuurde naels en opgedolliede hare het as jy soggens voor die skool stop nie, beteken nie jy is ‘n slegte ma nie.
Omdat jou kosblikke nie soos ‘n Gordon Ramsey advertensie lyk nie, beteken dit nie jy is ‘n slegte ma nie
Nóg ‘n fondsinsameling? En wéér kry jy nie al die lootjies verkoop nie... (mind jou daar was 150 teen R20) Nee, dit maak jou nie ‘n slegte ma nie. Soms is niemand lus om ‘n skaap te wen nie, maar meestal is jy besig om ‘n huishouding te run.
Die gruweloomblik as jy sien jou tienerkind se skoolskoene se sole het al losgetrek en wonder hoe lank loop hy al so? Dit maak jou nie ‘n slegte ma nie. Jy is nie ‘n weermagoffisier wat elke dag inspeksie hou nie. Dieselfde geld vir huiswerk wat nie gedoen word nie.
Wanneer jou kind jou die aand voor die mondeling inlig hy moet praat oor ‘n raar plant wat net op die hange van die Andesgebergtes voorkom, en jy skel of voel totaal moedeloos, is jy nie ‘n slegte ma nie.
Dit is dikwels die klein dingetjies wat mammas die meeste ontstig en laat voel jy is useless, maar onthou...
Jy is ‘n goeie mamma, want:
1. Jou kinders het kos
2. Jou kinders is versorg
3. Jou kinders het ‘n ma wat omgee
4. Jou hart is groter as wat jy besef
5. Jy het geduld (al voel dit min)
6. en, jou liefde sal nooit opraak nie
Glo in jouself...
Foto: pexels