21/02/2026
Vir die onderwysers, met sagte oë en moeg hande.
Daar is mense wat ons kinders net vir ’n paar uur sien , en dan is daar onderwysers, wat hulle elke dag vashou in ’n wêreld waar ons nie kan ingaan nie.
Julle hoor hulle lag wanneer ons dit mis.
Julle sien hulle sukkel met somme wat ons nie kan verduidelik nie. Julle vee trane af wat hulle vir ons wegsteek. Julle leer hulle om hulle hande op te steek,
om asseblief en dankie te sê, om weer te probeer wanneer hulle wil tou opgooi.
Soms is julle langer saam met hulle as wat ons is. En dit vra van ’n mens iets heiligs, ’n hart wat nie net werk vir ’n salaris nie, maar klop vir elke kind wat voor julle sit.
Ons weet…
ons weet daar is kinders wat julle dae swaar maak. Ons weet van die geraas, die papierwerk, die moegheid, die dissipline wat soos ’n berg voor julle staan. Ons weet julle gaan huis toe met hoofpyn en stilte in julle bors. Maar asseblief…onthou, tussen daardie moeilike kinders sit my kind ook, partykeer ook 'n kind met emosies net soos jy en ek.
Die een wat vanaand vir my sê...
“Juffrou het vandag so met my gepraat…” Die een wat vra....
“Hoekom hou sy nie van my nie?” Die een wat skielik bang is vir ’n klas wat eers ’n veilige plek was. Want kinders dra julle woorde huis toe soos skooltasse op klein skouers. Hulle herhaal julle sinne in die kar. Hulle wys vir ons hoe julle kyk.
Hulle vertel vir ons hoe julle antwoord.
En party aande breek ’n ouer se hart stil
oor ’n vraag wat ons kind gevra het
en die manier waarop dit beantwoord is.
Maar die smile wanneer hulle vertel hoe mooi die juffrou of Mnr is, die mooi woorde wat aan hulle oorgedra is , dit ..... dit bou hulle op om by die skool in te huppel op 'n Maandag.
Om ’n onderwyser te wees is nie net ’n beroep nie, dit is ’n roeping. ’n Heilige grond waar klein siele leer wie hulle is.
Julle is die stem wat hulle in hul koppe gaan hoor vir die res van hul lewens....
die een wat sê “Jy kan” of “Jy is nie genoeg nie.” Moet asseblief nie toelaat
dat een moeilike kind die sagtheid steel
wat vir die res nodig is nie.
Want daar sit ’n kind in daardie klas wat vanaand bid dat môre ligter sal wees. Wat 'n kosblik in sit met ’n knop in die keel. Wat skoene stadiger aantrek omdat skool nie meer veilig voel nie. Onderwysers, julle hande vorm ons kinders se selfbeeld. Julle oë wys vir hulle of hulle raakgesien word. Julle geduld leer hulle of hulle die moeite werd is.
En vir die van julle wat dit nog doen met liefde.....dankie.
Dankie dat julle hulle name ken.
Dankie dat julle afbuk tot op hul vlak.
Dankie dat julle glo in hulle wanneer hulle self nie kan nie. Julle is die lig in gange wat soms koud voel. Maar vir elke hart wat moeg geword het, onthou hoekom julle begin het. Onthou die eerste kind wat julle laat glimlag het. Onthou dat daar elke oggend ’n klomp klein harte instap wat net veilig wil voel. Want vir ’n kind is ’n juffrou of ’n meneer nie net ’n onderwyser nie, dit is ’n wêreld. En hoe julle met hulle praat vandag word die stem waarmee hulle eendag met hulself gaan praat.
Wees genadig met hulle, net soos Liewe Jesus daagliks genadig is met jou en jou emosies.
-Mammas met 'n Missie