18/07/2024
Weet jou kind regtig wat die woord "Boelie" beteken?
Ek sit gister na die kinders op ons speelgrond en kyk. Hulle speel "touchers". Die een seun hardloop verby die ander een, steek sy hand uit en skree ewe trots "touch! ek het jou" Die ander een kom huilende na my toe en se "Pietie het my geboelie."
Dadelik vra ek my normale vraag "wat het gebeur" en hy antwoord "Pietie het my geslaan. Hy het my geboelie" My hart krimp ineen vir die soveelste keer want weereens besef ek dat ons Ouers ons kinders waarsku teen Boelie en Boelies (wat heeltemal reg is) maar hoe dra ons die betekenis oor? Verduidelik ons ooit werklik vir ons kinders WAT beteken dit om geboelie te word? Of los ons dit net daar?
Ek sien so baie hoe ons kinders se kindwees en speletjies speel ten gronde gaan oor die woord boelie nooit ordentlik aan hulle verduidelik word nie. Tot so mate dat ek die woord boelie haat. Want dit ontneem ons kinders van so baie. Dit verander hulle in hierdie nors klein bedorwe brokkies wat deur oorbeskermende Mammas opgepiep word wat elke woord glo wat haar bloeitjie vir haar na skool gaan vertel. Sonder om te gaan uitvind wat die waarheid is.
Skuus, stenig my maar - maar hierdie is die norm vandag. En ek sien dit so baie. En net jy sal weet of jy die oppiep Mamma is en of jy jou kind toelaat om JOU te regeer, en of jy actually die Ouer in julle huis is.
In ons dae (ja ek is amper 50 jaar oud) het ons gehardloop en gespeel, bene gebreek, mekaar gevoeter as dit nodig was, opgemaak en weer gespeel tot die son onder gegaan het. Ons was kind. Ons was sorgeloos. Ons was gelukkig. Ons was nie in watte toegemaak nie.
Ek wens die ou wat die woord Boelie ontdek en versprei het wil 'n kramp kry waar die son nie skyn nie. En weereens ek weet daar is verpestings daar buite met GEEN maniere of ordentlike opvoeding nie. Maar leer jou kind die verskil.
Kom ons kyk gou na die ware betekenis van boelie. "Dit is aggressiewe gedrag wat op 'n AANHOUDENDE EN DEURLOPENDE WYSE PLAASVIND"
Ouers ek pleit en smeek julle - verduidelik asseblief die konsep van boelie behoorlik aan julle kinders. Julle het geen idee watter impak dit op hulle lewe het as julle dit nie doen nie. Hulle vergelyk die geringste kontak met kinders daarmee en julle maak van HULLE boelies omdat hulle net wil fight. Want nou moet boeta of sussa hulself mos verdedig.
Maak nie saak met watter storie jou kind by die huis aankom nie, doen die moeite om te gaan ondersoek instel. En JA Mamma, jou kind lieg ook! So al tjank hy dat die trane loop om jou hartjie sag te maak - as daar geen bewyse is van wat hy jou vertel het nie dan soek hy aandag - of 'n paar taai klappe (as jy 'n Ma is soos ek gehad het)
By Discovery Tuisonderrig Sentrum is daar NOG NOOIT 'n kind geboelie nie en sal dit ook nooit gebeur nie.
Die waarheid is Ouers wil nie hoor hulle kinders is nie perfek en volmaak nie en ongelukkig is ek nie een wat doekies omdraai nie. Ek gaan vir jou vertel presies wat gebeur het - die verskil gaan lê in gaan jy daarvan hou om te hoor jou kind sit op jou kop, of nie.
Mooi dag vir elkeen. EDUCATE ons kinders. Bewapen hulle met feite.
Liefdetjies
Send a message to learn more