28/09/2026
Goeiemôre, Leerhuis-ouers 🌿
Dit is Maandagoggend. Dit is vakansie. Dit is amper die einde van September, en skielik lê daar basies net twee maande van die skooljaar voor ons.
En dalk juis daarom wil ek vanoggend net vir ’n oomblik dankie sê.
Ek weet hierdie jaar was nie vir almal ’n maklike jaar nie. Ons het almal op ons eie manier ’n paar harde klippe gekou. En hierdie tyd van die jaar bring sy eie bekommernisse: begrotings wat gerek moet word, rekeninge wat betaal moet word, kinders wat groei, Desember wat nader kom en die jaar se “silly season” wat reeds om die draai loer.
Daarom wil ek hê julle moet weet dat ek julle ondersteuning raaksien.
Dankie dat julle steeds Die Leerhuis vertrou met julle kinders.
Dankie dat julle hulle elke oggend by ons aflaai en ons toelaat om deel te wees van hulle grootword, leer, sukkel, lag en ontdek.
En dankie dat julle maand ná maand julle finansiële verpligting teenoor Die Leerhuis nakom.
Ek weet ’n skoolfooi is nie net ’n bedrag op ’n faktuur nie. Dit kom uit ’n huishouding met baie ander behoeftes en verantwoordelikhede. Ek neem dit nie as vanselfsprekend nie.
Elke betaling help om salarisse te betaal, deure oop te hou en hierdie klein plek wat ons saam gebou het, aan die gang te hou.
Ons is amper by die laaste stukkie van 2026.
Voor ons almal weer die gejaag binnestap, wou ek net sê:
Ek sien julle.
Ek waardeer julle.
En ek is opreg dankbaar dat julle hierdie jaar saam met ons gestap het.
Geniet die vakansieweek en die bietjie asemhaalruimte. 🌿
Liefde
Sonika