14/07/2026
https://www.facebook.com/share/p/18D5D2GiFM/
Ek het jare gelede op hierdie treffende illustrasie afgekom. Ek kon lank nie ophou daarna kyk nie.
’n Volwassene staan met ’n maatstok in sy hand. Voor hom die kinders netjies in 'n ry, gereed om beoordeel te word.
Langs elke kind 'n toring blokkies – hoe hoër die toring, hoe “beter” lyk dit - volgens die maatstaf.
Totdat jy by een dogtertjie kom.
Daardie dogtertjie het nie haar blokkies opmekaar gestapel nie. Sy het iets anders gedoen. Sy het ’n kasteel gebou.
En skielik besef ek die probleem lê nie by die kind nie. Die probleem lê by die maatstok.
Ons leef in ’n wêreld wat maklik meet:
Persentasies.
Ranglyste.
Trofeë.
Toekennings.
Meriete.
Maar die belangrikste dinge binne 'n mens kan selde gemeet word...
Ek wonder vandag hoeveel kinders elke dag deur ons skole stap met ongelooflike potensiaal wat ons eenvoudig nie raak sien nie. Nie omdat hul nie die talent het nie, maar omdat hul talent nie altyd in die vorm kom wat maklik gemeet kan word nie.
Ons sien die 95%, maar mis die komponis. Ons prys die provinsiale kleure, maar kyk die kind wat mense bymekaar kan bring mis.
Ons vier die redenaar, maar hoor nie die stil kind wat eendag die beste luisteraar gaan wees nie.
Ons bewonder die kind wat vinnig leer, maar vergeet soms die een wat stadig groei en eendag eintlik die grootste deursettingsvermoë sal hê.
Ons beloon die toring. Terwyl iemand anders besig is om ’n kasteel te bou.
En kyk mooi na die dogtertjie se gesig. Sy glimlag nie. Sy staan nie trots langs haar skepping nie. Inteendeel, dit lyk amper of sy haar oë groot rek van verbasing. Asof sy reeds weet sy gaan nie die hoogste toring hê nie. Asof sy reeds glo dat sy die opdrag verkeerd verstaan het.
Hoe hartseer is dit nie dat soveel kinders só deur die skool stap nie. Nie omdat hul nie goed genoeg is nie, maar omdat hul begin glo het dat anders gelykstaan aan minder. Dat kreatiwiteit ’n fout is. Dat oorspronklikheid iets is om weg te steek. Dat hul eerder hul kasteel moet afbreek en dieselfde toring as almal anders moet probeer bou.
Miskien is die grootste gevaar van ’n maatstok ook nie dat dit kinders verkeerd meet nie. Miskien is dit dat kinders uiteindelik hulself daarmee begin meet...
Ek wonder ook hoeveel briljante idees, hoeveel kunstenaars, hoeveel skeppers, hoeveel entrepreneurs, hoeveel buitengewone onderwysers, dokters, ingenieurs en gemeenskapsleiers ons al verloor het omdat ’n kind op dertienjarigr ouderdom besluit het:
“Miskien moet ek maar net wees soos almal anders.”
En dit is waarskynlik een van die grootste tragedies van onderwys. Nie wanneer ’n kind druip nie. Maar wanneer ’n kind ophou glo dat sy uniekheid ’n gawe is.
As skoolhoof glo ek een van die grootste verantwoordelikhede van ’n skool is nie om kinders net te meet nie, maar om hul raak te sien. Om verder as punte, uitslae en prestasies te kyk en die unieke gawes raak te sien wat nog besig is om vorm aan te neem.
Want talent lyk nie altyd indrukwekkend op sestien nie.
Karakter ontwikkel stadiger as punte. Roeping blom later as rapporte. En sommige van die grootste drome begin as ’n kasteel wat niemand anders verstaan nie...
Ek d**k terug aan die baie kinders wat ek oor die jare ontmoet het. Sommige was nooit op die verhoog om pryse te ontvang nie. Hul name is nie op ererolborde nie. Hul het nie noodwendig die hoogste punte of die meeste medaljes gehad nie. Maar vandag is hulle uitsonderlike entrepreneurs, kunstenaars, ambagsmanne, onderwysers, maatskaplike werkers, ma's en pa's en goeie gemeenskaplede. Uitsonderlike ménse.
Hulle het nie die hoogste torings gebou nie.
Hulle het lewens gebou.
Ek wens elke kind kan hoor dat sy of haar waarde nooit vasgevang kan word in ’n persentasie, ’n ranglys of ’n sertifikaat nie. Dit is belangrik om na uitnemendheid te streef, vir seker, maar uitnemendheid het meer as een gesig.
Daar is kinders wat met syfers d**k.
Daar is kinders wat in musiek droom.
Daar is kinders wat met hul hande skep.
Daar is kinders wat mense laat lag wanneer hulle swaarkry.
Daar is kinders wat vrede bring waar ander konflik sien.
Daar is kinders wat jare later eers ontdek waarvoor hul gemaak is.
Ons werk as grootmense is myns insiens nie om almal dieselfde te maak nie. Ons werk is om elke kind die moed te gee om die beste weergawe van hom- of haarself te word.
Miskien moet skole minder vra: "Hoe goed het hierdie kind gevaar?” En meer vra: "Wie is hierdie kind besig om te word?”
Want die wêreld het nie nog mense nodig wat almal dieselfde torings bou nie. Die wêreld het mense nodig wat met durf droom, met durf waag en met durf bou: mense wat kastele bou waar ander net stapels blokkies sien.
En dalk is die mooiste taak van ’n onderwyser nie om nog ’n toring hoër te maak nie. Dalk is dit om stil langs daardie skaam dogtertjie te gaan staan, na haar kasteel te kyk en vir haar te sê: "Moet dit asseblief nie afbreek nie. Die wêreld het reeds genoeg torings. Wat ons kort, is mense wat die moed het om kastele te bou.”
Ek wens vir elke kind een onderwyser, een afrigter, een ouer of een mentor toe wat op die regte oomblik sal stilhou, na daardie kasteel sal kyk en eenvoudig sê: "Ek sien wat jy bou.”
Daardie vier woorde kan ’n lewe verander.
Want baie jare later onthou mense selde wie die hoogste toring in graad 8 gebou het. Maar hulle onthou altyd die grootmens wat eerste in hulle geglo het.
Ja, dalk is dit uiteindelik die ware roeping van onderwys. Nie om kinders te leer hoe om almal dieselfde toring te bou nie…
.. maar om hul te help glo dat die kasteel wat reeds in hul leef, die moeite werd is om klaar te bou. 👑🏰