18/09/2026
Mieke Prins (née Brown) | Matriek 2015
As ek terugdink aan my skooldae by Hoër Meisieskool Paarl, dink ek aan die lewendige koshuislewe, die skoolbanke waar ons geleer het, die sportvelde waar ons mekaar aangemoedig het en die waardevolle vriendskappe wat gevorm is.
Na matriek het ek BSc Agric studeer en daarna vir ’n paar jaar in die landbousektor gewerk. Dit was hier waar my belangstelling in entrepreneurskap gegroei het en die droom om eendag my eie besigheid te hê, begin vorm het.
In 2025 het ’n onverwagse geleentheid oor my pad gekom om @koekies_en_beskuit, ’n plaasbakkery, oor te neem. Ek het die geleentheid in 2026 met albei hande aangegryp en myself vinnig in ’n heel nuwe wêreld bevind – ’n wêreld van bak, produksie, personeel, verkope, bemarking en kontantvloei.
Om ’n bestaande besigheid oor te neem en verder te ontwikkel, bring uitdagings, maar ook ongelooflike geleenthede. Entrepreneurskap vra harde werk, aanpasbaarheid en deursettingsvermoë, maar dit gee jou ook die geleentheid om iets van jou eie te bou en ’n droom in ’n werklikheid te verander.
My pad ná skool het anders verloop as wat ek ooit kon voorsien. Vandag is ek dankbaar vir die fondasie wat Hoër Meisieskool Paarl my gebied het – om groter en hoër te droom en die moed te hê om daardie drome na te jaag.