01/09/2016
Danie Botha
25 August at 13:34 ·
Dis seker nooit die regte tyd nie - maar veral nie as jy 16 is nie.
In 'n kort lewe moes sy daarmee vrede maak dat sy nie haar tienerjare enduit sou beleef nie, dat sy nooit die drome van haar jongmeisie-wees tot wasdom sou sien kom nie. Dat haar vlerke vroeg geknip sou word. Beeldskone, NICE kind wat op 'n Donderdagoggend laat in Augustus onder helder sonskyn in die Overberg se klipperige grond toegemaak word. Om tot rus te kom. Van jarelange pyn, van siek wees. Wat self haar begrafnis ge-''reel'' het, die verse wat die dominee moes voorlees gekies het, ook wat ons in die kerk moes sing. Op die doek langs die preekstoel fotogrepe uit haar 16 jaar wat vir ons voorgehou word. Haar tweelingbroer wat onder die mooiste blommeruiker vir haar 'n kers aansteek. Die vlammetjie het dwarsdeur die diens helder bly brand. Vir 'n gewyde halfuur raak ons stil en vergeet eers van die dinge wat ons daagliks meemaak, wat ons voortdu.
Wanneer ons die kerk verlaat, ruil ons 'n paar gemeenplase uit met bekendes wat ons nie onlangs teegekom het nie. Dit bly ongemaklik. Van haar maats in skooluniform staan half onrustig eenkant. Hoeveel kan hulle verstaan van wat sy in 'n baie kort lewe moes leer aanvaar en verwerk. 'n Kort lewe waarin sy sekerlik meer moes probeer inpak en waardeer wat vir baie ander tot op 60, op 70 en meer beskore is.
Ek voel vandag hartseer, ook omdat EK nie heeltemal verstaan nie. Ek is seker haar ouers en tweelingboet sal hul troos vind - mettertyd raak die rou gesond en die rowe val later af. Letsels word in elke emosie ingebrand. Ons almal weet dit. Maar vandag, in die helder sonskyn, is dit of die lig effens dof geraak het, die lug net TE winters, so asof die lente nog eers wil terughou.