Danie Botha Language Services / Taaldienste

Danie Botha Language Services / Taaldienste I translate and edit texts (English/Afrikaans). Texts could include, but are not limited to, manuscr

01/09/2016

Danie Botha
25 August at 13:34 ·
Dis seker nooit die regte tyd nie - maar veral nie as jy 16 is nie.
In 'n kort lewe moes sy daarmee vrede maak dat sy nie haar tienerjare enduit sou beleef nie, dat sy nooit die drome van haar jongmeisie-wees tot wasdom sou sien kom nie. Dat haar vlerke vroeg geknip sou word. Beeldskone, NICE kind wat op 'n Donderdagoggend laat in Augustus onder helder sonskyn in die Overberg se klipperige grond toegemaak word. Om tot rus te kom. Van jarelange pyn, van siek wees. Wat self haar begrafnis ge-''reel'' het, die verse wat die dominee moes voorlees gekies het, ook wat ons in die kerk moes sing. Op die doek langs die preekstoel fotogrepe uit haar 16 jaar wat vir ons voorgehou word. Haar tweelingbroer wat onder die mooiste blommeruiker vir haar 'n kers aansteek. Die vlammetjie het dwarsdeur die diens helder bly brand. Vir 'n gewyde halfuur raak ons stil en vergeet eers van die dinge wat ons daagliks meemaak, wat ons voortdu.
Wanneer ons die kerk verlaat, ruil ons 'n paar gemeenplase uit met bekendes wat ons nie onlangs teegekom het nie. Dit bly ongemaklik. Van haar maats in skooluniform staan half onrustig eenkant. Hoeveel kan hulle verstaan van wat sy in 'n baie kort lewe moes leer aanvaar en verwerk. 'n Kort lewe waarin sy sekerlik meer moes probeer inpak en waardeer wat vir baie ander tot op 60, op 70 en meer beskore is.
Ek voel vandag hartseer, ook omdat EK nie heeltemal verstaan nie. Ek is seker haar ouers en tweelingboet sal hul troos vind - mettertyd raak die rou gesond en die rowe val later af. Letsels word in elke emosie ingebrand. Ons almal weet dit. Maar vandag, in die helder sonskyn, is dit of die lig effens dof geraak het, die lug net TE winters, so asof die lente nog eers wil terughou.

Ek het haar een keer ontmoet, by 'n verkeerslig in Tuine, Kaapstad, so 'n klompie jare gelede, miskien 10 of 12. Die Mar...
18/07/2016

Ek het haar een keer ontmoet, by 'n verkeerslig in Tuine, Kaapstad, so 'n klompie jare gelede, miskien 10 of 12. Die Marilyn Monroe van 'n baie klein advertensiepoging (Ek d**k dit was dalk vir een of ander studenteprojek.) om die Kaapse Suidooster op speelse wyse te gedenk. My vriendin Leonie was die dag saam met my.

Haar naam is Angelique en sy's oorspronklik van Bitterfontein daar in die Namakwaland het sy vertel. ''Nou, Meneer, woon ek en my man hier bo in die De Waalpark, by boom nommer 7 as Meneer wil kom kyk.''

Nee, Meneer wou nie kom kyk nie, maar pols: ''Angelique...''

''Marilyn, Meneer - dis Marilyn nou.''

''Angelique, ek bedoel Marliyn, jy verkoop nou hierdie afdrukke hier by die verkeerslig. Kry jy iets daarvoor?''

''Klomp, Meneer. Vir elkeen wat ek verkoop gee hulle my iets. En Meneer, dis nog nie eers al nie. Ek gaan mos volgende jaar vir nog ander 'modelings' Taiwan of Japan toe ook. My man hou nie eintlik van die idee nie. Ek d**k hy's bang ek word erg beroemd soos daai blonde filmmeisie en dan los ek hom vir een met baie geld en mooi karre, een wat elke dag vir my presente en goed sal koop.''

Ek het haar nie weer gesien nie, maar ek d**k tog soms aan haar en dan wonder ek of sy nog droom. En as sy droom, waaroor dan? Namakwalandse veldblomme wat lig op die sagte Augustusbries na 'n mens toe aangegolf kom, 'n roemryke lewe tussen bekende filmmeisies in Amerika, of haar eie huis met sy eie boom hier in die Kaap?

Ek het onlangs by iemand gehoor sy woon nou op die Kaapse Vlakte en sukkel winters erg met haar longe.

Danie Botha's photo.

01/06/2016

Die winter laat hom nie voorskryf nie - ons reen bly weg. Not good. Die herfs, eweneens, laat hom nie vertel nie. Droge druiweblare begroet my nou al 'n paar oggende by hierdie trappies waar ek moet op vir 'n koppie koffie, Die Burger bekyk, so 'n bietjie klets en gedagtes uitruil met van die locals - soms besoekers ook - oor die eerlike stand van sake in SA waaroor die SAUK se bedryfshoof ons al hoe minder wil laat inlig. Ek sien hy wil elke dag 70% goeie nuus bring, hy en ons opperbevelvoerder. Ag wat, hier's vir julle 'n stukkie goeie nuus, waarde here: Dis nog lekker in die Overberg, in die Wes-Kaap. Die voeltjies praat in vele tale (nie slegs Engels nie) en die druiweblare jaag mekaar in vele skakerings van oker, geel, rooi en bruin teen die stoep op, dan weer af en oor die pad veld toe. All good.

30/05/2016

Ek het pas aan die kerrie wat ek maak, gelek. Ek hou van 'n warm besigheid, maar ek d**k vandag het ek my hand met die kerrie en rissies oorspeel. Ek kook nooit volgens 'n resep nie, ek gooi sommer by wat ek glo gaan werk, wat ek d**k dalk lekker sal smaak. Ek weet ek oordryf nou, maar ek is bang soos my asem in- en uithyg na die vinnige proe, gaan die lug hier by my mond aan die brand slaan. Moet seker maar die vuur en hitte met 'n glasie Blanc de Blanc van Rusthof by Bonnievale blus. Gesondheid, Cheers, Zum Wohl, L'Chaim en Sante, Petra.

29/04/2016

By Struisbaai prr prr prr prr volgepakte skuite vet rooistompneuse & ander vis die klein hawe in. Toeriste & locals staan almal opgewonde nader om die vangs te kom bewonder. Seemeeue & ander voels maak 'n gekke kabaal & raas allerysliks & bevlieg mekaar in afwagting op iets te ase. Met goeie vangste, soos vandag, glimlag die vissers en skyn die son blink op hul tande. Ander dae staar hulle net strak oor die see.

14/03/2016

Laaste lig na die weste se kant toe. Alles is stil, die plaasgeluide het sommer so terloops eenkant toe weggeraak. Dis net die wind in die denne altyd maar, die bekende wind saans wat soos 'n vertroude stem uit die stories hier rond oor die werf kom klaag. Anderkant toe gaan die dorp in die aandlig onder. Oor 'n halfuur sal die straatligte aan wees, die sterre in groepies uitkom & die uil hier naby begin hoe-hoeee. Dis alles bekend & goed. Vanaand sal dit koeler wees en die dae wat kom, sal die herfs saambring.

14/03/2016

Soms besoek ons die karakters in ons eie ou verhale van lank gelede sommer so half terloops, omdat die besoek nie regtig beplan was nie, omdat dit half per ongeluk gebeur het. Dan vind ons dalk dat dinge en stories van lank gelede nou minder saak maak, dat die skaafplekke nie meer so gevoelig is nie. En dis goed so. Dat die dinge en klein wonde maar in sagte lap toegedraai en diep weggepak mag raak. En dis goed so. Dat dinge en stories van lank gelede nie die son in ons dae telkens hoef te kom verduister nie, nie soos stormwind aan ons jaspante hoef te kom pluk nie, nie die lig in ons oë hoef te kom steel nie. En dis baie goed so.

14/03/2016

Die aandskemering bring met hom 'n ligte bries hier oor die berg van Elim/L'Agulhas se kant af na my werf toe. Ek hou daarvan: Dit was nogal warm/bedompig vandag. Ek's moeg na my klein staptog (Tel 6km as 'n 'tog'?), die koue stortwater het my 'n paar maal laat 'oe-oe' en 'aah-aah'. Nou sit ek op my stoep en kyk noordwaarts, na daar waar die Sonderendberge die grens binneland toe vorm. Ek wonder hoe helder die Karoosterre se ligte vannag gaan brand, ek wonder of die dag in die binneland gaan afkoel soos hier in die Strandveld-gebied van die Overberg. 'n Vriendin op Beaufort-Wes laat weet van 43 grade rumours Saterdag op Oudtshoorn. Phew. My BL is darem lekker koud. All's good. Gesondheid. Cheers. Zum Wohl. Le Chaim.

14/03/2016

Ek sit hier op die stoep van die kleinhoewe Voorberg, so 3km buite Napier, en kyk hoe die klein herfswind sulke dunnerige flarde stof agter hom aansleep. Die laatdagskaduwees verf donker strepe oor die geel kolle veld hier reg voor my. Doer ver, anderkant die dynserige koppies, staan die ligblou Sonderendberge strak teen die einder. Die bure se koei Stompie plof uierswaaiend met die pad af, huis toe - sy laat haar nooit vertel sy moet in 'n spesifieke kamp wei nie. Die maan sal 'n bietjie later deur die denne na die stukkie oop veld kom kyk. Die hasies en grysbokkie sal reeds hier voor my huis verbygehardloop het - die tortels stil begin raak het, my kwikkies Sus en Daan nes gekry het. Dalk sal die wind stil raak. Dalk sal die sterre so laag hang soos bo Loxton, of by Richmond, of by Helen Martins se huis in Nieu-Bethesda, of by al die Karoodorpe waar jy voel jy hulle kan pluk. Dalk sal die onrustigheid wyk. Dalk sal die Sondagaand in die melkweg vrede vind.

01/03/2016

In een van die huise langs Sarel Cilliersstraat, Napier se deurgang Bredasdorp, Struisbaai en Agulhas toe, het die aktrise & geroemde digter Wilma Stockenstrom grootgeword. Natuurlik was die ou plek destyds wit, nie die nuwerwetse vuilgroen van vandag nie. Haar pa was die Engelsonderwyser by die ou skool op die hoek van Kuys- en Hoogstraat, daar waar die aftreeoord nou gevestig is. Ek hoor gisteraand dat Napier toentertyd 'n gerekende dorp was met vele aktiwiteite, winkeltjies, banke, 'n poskatoor met sentrale, meer as een sportklub & sosiale byeenkomste. Die plekkie het blykbaar behoorlik gelewe. Dis anders nou - vele inkommers het die karakter kom verander. Nou is die juwelierswinkeltjie skuis oorkant Gunners nog net 'n swart-en-wit kiekie in iemand se fotoalbum, die juigende groep by die rugbyveld kwalik meer as 'n sagte gedreun in iemand se geheue. Die winde van verandering het ook hier deurgewaai.

16/02/2016

Dis koud. Dis nat. Heelnag gedrup en gereën. Sterk wind het 'n boomtak tot hier teen die trappies geslinger.Die voëltjiebad/-drinkplek loop oor. Ek ruik die malvablare wat helderder groen vertoon as gister tot hier op die stoep. As jy jou goed verbeel, kan jy die utgestrekte stukkie veld hier voor jou SIEN groei. Oral staan stukke vars voorwinterse weiding op. Die tekens is daar: Die piet-my-vrou het dae laas geroep, saans reik jy makliker vir 'n warmding en dis gouer donker hier tussen die denne. Dis Februarie, maar dinge rondom my is nie van Februarie nie - dis van winter. Ek is nie so seker dat ek met die somer klaar wil wees nie. Ek wil nie van sop en brood hoor nie. Ek hou meer van buite sit en vleis braai. En die vuur. Ja, 'n vuur kan mens altyd maak. Maar ek's nie oortuig dat ek gereed is nie.

03/02/2016

Die wêreld hier rond is vanoggend maar koelerig na die laaste klompie warm dae. Selfs reënerig. Nie sleg nie, nee; dit herinner egter aan die winter. En ek weet: Ek is van die somer!

Address

Napier
7270

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Danie Botha Language Services / Taaldienste posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The School

Send a message to Danie Botha Language Services / Taaldienste:

Shortcuts

Share