05/10/2026
Wat ’n voorreg!!
Eerstens baie dankie aan ons Hemelse Vader vir die geleentheid om saam met die Schoonie-span die toekoms van opvoeding aan te durf!
Dit is vir my ’n besondere voorreg en groot verantwoordelikheid om myself as die nuwe skoolhoof van Hoërskool Schoonspruit aan u voor te stel.
Ek aanvaar hierdie nuwe rol met groot dankbaarheid en opgewondenheid.
Vir my gaan ’n skool oor veel meer as net akademiese prestasie. Dit gaan oor die mense. Dit gaan oor jongmense wat ontdek wie hulle is, waarvoor hulle talent het en waartoe hulle in staat is. Dit gaan oor onderwysers wat elke dag hul beste gee, ouers wat hul kinders ondersteun en ’n gemeenskap wat saamstaan om ’n verskil te maak.
Ek glo dat elke leerder die geleentheid moet kry om te groei, te behoort en te presteer. Hoërskool Schoonspruit moet ’n plek wees waar leerders veilig voel om hulself te wees, waar hulle aangemoedig word om groot te droom en waar hulle leer dat sukses nie net gemeet word aan punte nie, maar aan Christelike norme en waardes.
As skoolhoof wil ek graag ’n kultuur van vertroue, respek, verantwoordelikheid en uitnemendheid bevorder. Ek glo sterk in spanwerk. ’n Skool kan nie deur een persoon gebou word nie. Dit word gebou deur mense wat saamwerk, mekaar ondersteun en bereid is om soms ’n tree verder te stap.
Ek kom na Schoonspruit met die begeerte om eers te luister, te leer en te verstaan, en dan saam met die personeel, leerders, ouers en gemeenskap vorentoe te beweeg.
Ons sal saam voortbou op dit wat reeds goed is, ruimte skep vir nuwe idees en saam met die Schoonie-familie werk aan ’n toekoms waarop ons almal trots kan wees.
Mag elke leerder wat deur die deure van Hoërskool Schoonspruit stap, eendag kan terug kyk en sê:
“Hier het ek gewerk, hier het ek gedien en ek gaan voort om te lewe.”
My deur sal oop wees. My hart sal oop wees. En my hand sal uitgestrek wees om saam met u hierdie volgende hoofstuk te skryf.
Ek sien met groot verwagting uit na die pad wat voorlê.
Kom ons bou saam. Kom ons droom saam.
Met waardering en opregte groete
Mnr. Rudi van Staden
Skoolhoof
Hoërskool Schoonspruit