08/01/2023
Geneem vanaf die blad van Ouer-Tiener Harmonie . Volg dit gerus
Liewe Gr 11 ouer
In November 2020 neem 'n begaafde 17 jarige, wat 'n neurochirurg wou word, haar eie lewe. Dit is slegs 48 uur na 'n ander 17 jarige, by dieselfde skool, ook haar eie lewe geneem het. (Rapport 22 Nov 2020)
Ek het in 2021, met my Gr 11 tiener gesien watter onnatuurlike druk daar op Gr 11's is. Van die eerste skooldag in Gr 11 hoor die kinders:
"Gr 11 is maak of breek vir keuring!!!"
Nou kry jy die gedissiplineerde, hardwerkende tieners (wat nog altyd goed akademies presteer) wat nog meer druk op hulself sit. Dan kom een slegte fisiese toets en die 17 jarige d**k haar toekoms is vernietig.
Hoekom beleef tieners dit so intens? Want tieners leef vanuit hul limbiese gedeelte waar die emosies sit, terwyl die prefrontale korteks, wat rassionele denke insluit eers volwasse raak hier van 25 jaar.
In die begaafde 17 jarige se selfdoodbrief het sy geskryf:
"Die belangrikste ding is dat hierdie niemand se skuld is nie. Ek was net nooit bedoel om oud te word nie. My brein is al teen my gekant vandat ek gebore is, ek's gewire om iewers uit te brand. Ek het lank probeer baklei maar daar kom 'n punt waar die struggle die award outweigh. Ek is net moeg baklei teen myself. Wat is die punt van enigiets. Ons skryf toetse en leer dinge en worry oor puntlose goed, vir watse rede nou eintlik?! Skool het die laaste bietjie uit my uitgevat. Ek's moeg daarvoor om te voel asof ek dom is en niks gaan bereik nie..."
Hoe absoluut tragies dat 'n jong begaafde kind wat se hele toekoms voor haar gelê het so kan voel?
Ek het in 2021 kort-kort die onderhoud met die meisie se Pa, in die Rapport, uitgehaal en gelees en gewonder wat ek daaruit kan leer.
Een ding wat ek later die jaar begin doen het (soos wat die stresvlakke net hoër en hoër geraak het) was om glad nie meer akademiese vrae vir my dogter te vra nie.
Vrae soos:
"Wanneer skryf jy ...?"
"Wanneer begin jy leer?"
"Hoe was die toets/ eksamen?"
Ek het na 'n toets/eksamen eerder begin vra:
"Hoe voel jy?"
"Cope jy?"
Die waardevolste ding wat die artikel my geleer het as dat GEEN punte belangriker is as jou kind se geestesgesondheid nie.
Ek wil uit my hart uit dankie sê vir Zara Malherbe se ouers wat dele van Zara se brief publiek gemaak het.
Zara se woorde het my in 2021 telkens gedwing om na die "groter prentjie" te kyk eerder as net die hier en nou van Gr 11 punte.
Ek het nie vir Zara persoonlik geken nie maar glo dat haar laaste woorde in baie ouers se harte sal inspreek.
RIV liefste Zara.