25/08/2026
Ons voorlaaste byeenkoms vir hierdie kwartaal is vanoggend gehou. Ons byeenkoms word deur Maymona Toure, as lid van d CSV, geopen. Mnr. Moolman lei ons in gebed met die gebed van die Here - die Onse Vader. Clewin Februarie, die Voorsitter van ons VRL, verwelkom almal, en in die besonder ons eregaste, mnr. Nell, die hoof van Hoërskool Heidelberg, asook hul VRL-leerders en hy lees voor uit Spreuke 3 en Joshua 1.
Daarna sê Ashmaree Goliath vir ons die vrouegebed op. Dan wens sy ook die matrieks sterkte toe vir hul opkomende eksamen.
Eustacia Hop doen vir ons ‘n skriflesing oor die volle wapenrusting van God.
Juf. Adré Coetzee lewer dan verslag oor die RATEM Eisteddfod gister in Riversdal. Daar is absoluut PUIK uitslae en prestasies! Veels geluk aan die dertien deelnemers. Drie leerders het dan ‘n spreekbeurt en dra hul gedigte voor.
Mev. Mostert sê ons word soms tot stilstand geruk deur die dood van mense wat saam met ons in die huis gewoon het. Ons moet besef hoeveel betekenis lewe het. Ons het altyd die herinneringe aan ons geliefdes en hul liefde bly by ons. Een van die graad 10-leerders lees vir ons uit Joshua 1 en Psalm 91. Daarna steek leerders kerse aan vir hul geliefdes wat vanjaar oorlede is.
Mnr. Februarie se spreekbeurt volg. Hy voel dat die aansteek van die kerse gepas is by ons voorlaaste byeenkoms - dit is net weer ‘n bewys dat ons mekaar moet ondersteun in moeilike tye. Hy bedank dan die besoekers en hul teenwoordigheid tydens ons byeenkoms en dat ons dit met mekaar kon deel. Al die rugby - en netbal afrigters en - spelers word daarna bedank vir hul deelname en opofferings gedurende die afgelope seisoen - dit was ‘n lang seisoen. Dit verg baie van ‘n persoon.
Aan ons matrikulante sê mnr. Februarie dat hul nog net 3 dae van skool oor het vir hierdie kwartaal. Dan begin hul met hul voorbereidende eksamen. Hul moet nou met selfdissipline aan hul akademie begin voorberei - almal in die gemeenskap hou hul nou dop. Hul moet seker maak dat hul die regte keuses maak. Die opofferings wat hul nou maak, sal ‘n bydrae lewer tot hul sukses. Aan die res van die skool word gesê: ons beweeg nou in ‘n tydperk van assessering in: pas selfdissipline toe en maak seker dat jy in die skool is. Die graad 9’s moet, byvoorbeeld, in die skool wees om hul GEC te voltooi. Leerders moet hul in die skool gedra. Almal wil jou help - jy moet net jou deel doen. Sterkte vir die week.
Maymona sluit af met ‘n uitnodiging van die CSV en mev. Meyers dat leerders gerus hul verrigtinge elke Woensdag, 2e pouse in juf. Veronica-Ann se klas kan bywoon.
Daarna word die verrigtinge afgesluit met die sing van die skoollied en die volkslied.