06/09/2016
Dit was oorlog…
Verbeel jou jy is in graad 4 in 1985. Suid-Afrika is in ‘n oorlog gewikkel met die Kommunisme en ons land se soldate veg in Angola. Die TV en radio se nuus vertel daagliks en aanhoudend hoe die SA troepe in die oorlog vaar.
In daardie dae het jy na matriek dadelik weermag toe gegaan vir verpligte diensplig. Na drie maande het jy grens toe gegaan om te gaan veg. Op 18-jarige ouderdom moes jy oorlog toe gaan. Weg van enige bekende plekke, weg van jou geliefdes. Jy het nie geweet of jy die oorlog sou oorleef en jou mense weer sou sien nie.
Ons het as jong seuns daarvan gedroom om te gaan veg. Ons het almal boots, camo-klere, boshoede, speel-gewere, speel-handgranate en allerlei oorlog-items in ons besit gehad. Al wat ons vir Kersfees of verjaarsdae wou hê, was nog ‘n beter speel-geweer of ‘n nuwe paar boots. Glo my, die winkels was vol daarvan. Ons het op Vrydagmiddae na skool in die bosse gaan skyn-aanvalle hou en diebosbewoners bekruip en op hulle gespioeneer. Ons was parate seuns wat in ons eie gedagtes slaggereed was om te gaan veg. Hulle was die vyand! Ons het nie veel op die TV gehad anders as Liewe Heksie, Wielie Walie, Grapjas Didi en Heidi nie, ook geen vorm van rekenaar- of TV-speletjies nie. Ons het ons eie vermaak verskaf. Drome vir ons was oorlogsdrome. Ons het in die winterreëntye kreatief met klein army-mannetjies op ons kamervloere oorlog gevoer en daardie veldslae het soms dae lank geduur as gevolg van ons eie verbeeldingsvlugte wat op loop gegaan het. Ons wêreld was klein en plekke soos Londen en New York was ligjare van ons af. Ons lewens, ideale en drome was gesentraliseer en gefokus op Suid-Afrika en wat binne hierdie land se grense aangegaan het. Op hoërskool het ons kadette gehad wat ons nog meer vir die taak op die grens voorberei het. Ons het helde soos die soldate en Recces, Peter Kirsten, Danie Ge**er en selfs Naas Botha gehad. Ons wou hulle wees. Ons wou soos hulle wees. Leon Schuster, die grapjas, het met verskeie liedjies bygedra tot daardie manne se status.
Vir vandag se generasie laerskoolkinders het die wêreld baie klein geword. Met behulp van tegnologie is New York nie meer so ver nie. Ons skype en ons weet wat ons maats en familie daar aanvang. Hulle gaan hou vakansies anderkant die water en sien dinge wat vir ons as kinders nie toeganklik was nie. Ek wonder gereeld wat in hulle gedagtes aangaan, waaroor hulle deesdae droom en waarvoor hulle wens. Stel hulle vir hulself doelwitte en streef hulle daarna om dit te verwesenlik?
Ons het op ‘n stadium geglo dat die lewe vir die meeste van ons op die ouderdom van 19 op die grens sou eindig. Ons het min verder as dit gedroom. Hulle het nie daardie vooruitsig nie. Hulle lewens lê soos die N1 se langpad voor hulle uitgestrek.
My boodskap aan die kinders met wie ek daagliks werk: Gryp elke dag en droom en beplan. Maak jouself akademies en geestelik sterk en volwasse vir die uitdagings. Ons het onsself destyds voorberei vir die oorlog. Berei jouself voor vir die lewe!
PS. Gaan luister na Bok van Blerk se liedjie Die Kaplyn en laat iemand wat weet vir jou die storie agter die storie vertel. Deur Jacques Horne