01/10/2026
Wanneer jou kind by die huis kom en sê: “Ek hou nie van my juffrou nie,” of “My juffrou p*k op my,” kom die mamma kloue uit. As ouers wil ons ons kinders verdedig. Maar juis in sulke oomblikke is dit belangrik om eers rustig te luister voordat ons gevolgtrekkings maak.
Een van die belangrikste dinge wat ons as ouers moet onthou, is om nooit ’n onderwyser voor ons kinders af te kraak nie. Kinders luister meer as wat ons dink. Selfs gesprekke om ’n braaivleisvuur kan ’n groot invloed hê op hoe ’n kind die volgende dag na sy of haar onderwyser kyk. Wanneer volwassenes ’n onderwyser sleg praat, maak dit vir ’n kind baie moeiliker om daardie persoon later te respekteer.
Begin deur rustig met jou kind te gesels. Vra wat gebeur het en laat hom of haar vertel sonder om dadelik raad te gee of kant te kies. Soms is daar ’n werklike probleem, maar soms is daar ook bloot ’n misverstand, frustrasie of ’n botsing van persoonlikhede. Ons kinders vertel natuurlik die situasie soos hulle dit beleef — daarom is dit belangrik om te onthou dat daar gewoonlik meer as een kant aan ’n storie is.
Help jou kind ook om vir ’n oomblik in die onderwyser se skoene te staan. Vra: “Hoekom dink jy het die onderwyser so gereageer?” of “Wat kon jy dalk anders gedoen het?” Dit beteken nie dat jou kind altyd verkeerd is nie. Dit leer hom of haar bloot om empatie te hê en verantwoordelikheid vir hul eie optrede te neem.
As die probleem aanhou, maak ’n afspraak met die onderwyser. Probeer om nie die gesprek in te gaan met die doel om iemand skuldig te bevind nie. Gaan eerder met die gedagte: “Hoe kan ons saam my kind help?” Luister na die onderwyser se perspektief en deel rustig wat jou kind by die huis ervaar.
Baie probleme kan opgelos word wanneer ouer en onderwyser besef dat hulle eintlik aan dieselfde kant staan — albei wil hê die kind moet gelukkig wees, groei en sy of haar beste kan doen.
Soms help dit om saam eenvoudige, praktiese planne te maak. Dalk moet daar duideliker kommunikasie wees, dalk moet verwagtinge beter verduidelik word, of dalk het die kind net ’n bietjie leiding nodig oor hoe om konflik te hanteer.
Indien die situasie egter nie verbeter nie, of as daar ’n ernstiger probleem is, kan ’n skoolhoof, graadhoof of berader betrek word. Dit is nie nodig om oorlog te verklaar nie; dit gaan steeds daaroor om ’n oplossing te vind wat in die beste belang van die kind is.
Die grootste geskenk wat ons in hierdie situasies vir ons kinders kan gee, is nie om elke probleem namens hulle op te los nie, maar om hulle te leer hoe om moeilike mense, verskille en konflik op ’n gesonde manier te hanteer.
Ons kinders gaan deur hulle lewe nie altyd van elke onderwyser, baas, kollega of spanmaat hou nie. Maar as ons hulle leer om met respek te kommunikeer, na ander se perspektief te luister en probleme rustig aan te spreek, gee ons vir hulle vaardighede wat hulle lank ná hulle skooldae nog sal gebruik.