30/03/2026
Geleen......đź’”
Boelies raak nie minder nie. Hulle leer net later hoe om dit netjieser te doen
Mense praat oor boelies asof dit iets is wat saam met skoolhemde, snoepiegeld en daai reuk van 'n warm klas vol kinders en geraas agterbly. Asof dit maar net nog 'n fase van grootword is. Iets wat kinders sterker moet maak, soos ekstra wiskunde klasse, atletiek en daai eksamendruk wat eintlik as 'n oorlogsmisdaad ondersoek moet word.
Dis maklik om so te praat wanneer dit nie jou kind is wat skielik stadiger begin loop, minder eet, sagter praat, of soggens aantrek vir skool soos iemand wat oppad tronk toe is nie.
Die waarheid is boelies is nie ou skooldrama nie. Dis lewende wreedheid, en by kinders ruk dit hand uit vandag.
Seuns doen dit. Meisies ook. Party boelies kom met volume. Party kom met glimlagte, goeie hare en daai talent om iemand in tien sekondes sleg oor hulself te laat voel sonder om ooit hul blazer te kreukel. Dis nie meer net een laaitie met 'n groot mond en bevraagtekende breinselle wat baklei vir derde plek nie. Dis nou groepschats, screenshots, voice notes, fake profiles en daai vuil klein Olimpiese sport waar iemand uitgesluit word terwyl almal maak of hulle te onskuldig is om iets te weet.
Toe die klok gelui het, kon 'n kind ten minste huis toe gaan en vir 'n rukkie asemhaal. Nou klim die boelie saam in jou sak in. Hy lĂŞ op jou bed in die lig van jou foon en wag in die klasgroep soos moeilikheid met uncapped data.
Dis wat mense aanhou mis. Boelie is nie net stout wees nie. Dis nie net kinders wat bietjie rof speel en later almal saam tjips eet nie. Dis vernedering met gehoor. Dis herhaling. Dis daai koue ding wat 'n kind leer dat mense soms saam lag wanneer jy breek. Hierdie goed gaan sit nie net in iemand se dag nie. Dit gaan sit in hul lyf. In hul slaap. In hul stem. In die hand wat later nie meer wil opgaan in 'n klas of 'n vergadering nie. In die manier hoe hulle begin jammer voel oor hul eie bestaan, asof hulle heeltyd 'n verduideliking skuld net omdat hulle daar is.
Wat my nog kwater maak, is hoe maklik grootmense verby dit kyk. Iemand noem dit kinders wat kinders is. Iemand anders sĂŞ die kind moet net harder word, wat gewoonlik gesĂŞ word deur iemand wat self sou huil as hulle een dag in graad agt moes oorleef. Nog iemand maak asof dit drama is, asof 'n stukkende selfbeeld iets is wat sommer oor die naweek regkom saam met vuil skoolskoene en 'n milkshake.
Dis verstommend hoeveel mense hul ruggraat verloor sodra wreedheid ordentlike klere aantrek.
Dis seker ook hoekom grootmens-boelies bestaan. Daai kinders word ouer sonder dat iemand hulle ooit stop.
Hulle kry poste, naamplaatjies, goeie parfuum en belangriker e-posadresse. Nou noem hulle dit eerlikheid, humor, dissipline of kantoor-kultuur. Dis die baas wat jou in 'n meeting afkraak en maak of hy jou "ontwikkel". Dis die tannie wat jou hele lewe audit tussen die aartappelslaai en die braaibroodjies. Dis die vriend wat jou elke keer afkraak en dan verbaas lyk as jy nie wil saam lag nie. Dieselfde gif. Net in 'n bottel met 'n mooier label op.
Boelies moet gestop word terwyl almal nog maak of dit klein is. By skole. By huise. By sport. In families. Op fone. In kantore. Oral waar iemand d**k hulle mag 'n ander mens kleiner maak om self minder pateties te voel.
Elke keer wat 'n grootmens wegkyk, leer 'n kind iets verskrikliks: dat wreedheid plek kry, dat stilte wen, dat hul pyn nie genoeg is om iemand uit 'n stoel uit te kry nie.
Dis hoe boelies grootword.
Nie net in ouderdom nie.
In toestemming.
©️ -edb- 2026