03/09/2026
BD’s SPOG MET NAASWENNER VAN MEDIA 24 POËSIEKOMPETISIE
Hartlik geluk aan Malienke van Wyk (gr 11) wat as naaswenner aangewys is in die landswye poësie-kompetisie wat jaarliks deur Media 24/Beeld in Onderwys aangebied word.
Dis ‘n puik prestasie waarmee sy nie net prysgeld vir haarself losgeskryf het nie, maar ook vir haar en haar Afrikaanse onderwyser grafiese kursusse ter waarde van R3900 wen.
Haar sussie, Janíke van Wyk (gr 9), is ook gelys onder die groep skrywers wat 70-79% behaal het met haar gedig, getiteld “Vriende uit die Verlede”.
Met Malienke se gedig, “Die dag toe ek moes kies”, het sy die BD’s baie trots gemaak. Beide leerder en onderwyser moes vrae rondom skryf en onderrig beantwoord en die onderskeie antwoorde was as volg:
Op die vraag hoekom sy vir die kompetisie ingeskryf het, het Malienke as volg geantwoord:
“Goeie Afrikaanse poësiekompetisies is skaars, so wanneer ons skrywers die geleentheid kry, gryp ons dit met beide hande.”
Me Liezel van Schalkwyk se antwoord op hoe kreatiewe skryfwerk onderrig word: “’n Kombinasie van visuele stimulering, gepaste wenke en uit-jou-hart-uit-lewenservarings lei tot wen skryfstukke.” Sy deel lesse uit eie ervaring en bederf die skrywer deur sy/haar geskrewe werk voor te lees. So bewys jy dat jy knap skryfwerk geniet en waardeer word deur ander.”