10/04/2026
Die begin van ’n nuwe kwartaal dra altyd iets besonders in hom. ’n Stil uitnodiging om weer te begin, om weer te probeer, om weer met vars oë na die pad vorentoe te kyk. By die leersentrum is dit vir my belangrik dat ons nie net akademies reg begin nie, maar ook geestelik. Dat ons, as onderwysers en kinders, doelbewus vir God nooi om saam met ons elke uitdaging van hierdie kwartaal aan te pak.
Ons het die tweede kwartaal begin met iets eenvoudig — potlode en donuts. Maar agter die eenvoud lê daar soveel betekenis.
Die lewe is nie altyd sag nie. Nie vir ons nie, en ook nie vir ons kinders nie. Hulle dra soms swaar dinge in klein harte, ervaar uitdagings en sosiale struikelblokke wat vir ons dalk al bekend geraak het. Daarom het elkeen ’n donut ontvang — ’n klein herinnering dat, ten spyte van alles wat moeilik is, daar steeds soetheid in die lewe is. Dat die uitdagings hulle nie hoef te oorweldig nie, maar eerder kan vorm, kan slyp, en wysheid kan bring vir die pad vorentoe.
Elke kind het ook ’n grys potlood ontvang. Want ons is, elkeen van ons, die skrywers van ons eie lewensverhaal. Elke oggend staan ons op en skryf ons verder — soms met trots, ander dae met spyt. Maar die mooi van ’n potlood is dat dit kan uitvee. Niks is permanent nie. Geen fout, geen verkeerde keuse, geen oomblik van swakheid hoef die einde van die storie te wees nie.
Ons dien ’n genadige God. ’n God van tweede kanse, van oorbegin, van liefde wat nie ophou nie. En dit is ons roeping om ons kinders daagliks daaraan te herinner — dat wanneer hulle voel hulle storie is besig om skeef te loop, hulle altyd kan terugdraai, kan bid, kan vra vir vergifnis, en kan vertrou dat Hy hulle weer sal lei.
Mag hierdie kwartaal een wees waar elke kind nie net groei in kennis nie, maar ook in geloof. Waar hulle leer dat hulle stories waarde het — en dat, saam met God, dit stories kan wees wat nie net vandag saak maak nie, maar vir ewig betekenis dra.