25/08/2024
PERSVERKLARING TROTS DF MALAN 23-08-2024
“In ‘n nagmerrie uitspraak vir die BHL, het die Appélhof op 23 Augustus 2024 aan Trots DF Malan verlof toegestaan om op al die gronde (insluitend die proses), soos versoek, te appélleer.”
Ons rig hierdie persverklaring aan u sodat u bewus is van die ware feite wat die afgelope ruk afgespeel het rakende die applikante (gesamentlik verwys na as “Trots DF Malan”) se appél na die Appélhof in Bloemfontein.
U sal onthou dat die Hooggeregshof in Kaapstad op 17 Oktober 2023, Trots DF Malan se hersieningsaansoek wat onder andere gehandel het oor die proses wat die Beheerliggaam (“BHL”) van die Hoërskool DF Malan gevolg het om die skool se naam te verander, van die hand gewys het.
Trots DF Malan het aansoek gedoen om verlof tot appél teen die beslissing van Regter Henney op die volgende gronde:
1. Dat die Hof fouteer het in sy besluit dat die BHL oor die mag beskik om die skool se naam te verander.
2. Dat die Hof fouteer het deur te bevind dat die prosedure wat die BHL gevolg het redelik en regverdig was.
3. Dat die Hof fouteer het deur te bevind dat die besluit van die BHL om die naam te verander rasioneel was.
4. Dat die Hof fouteer het deur te bevind dat Trots DF Malan die kostes vir die hersieningsaansoek moet dra.
Punte 2 en 3 handel spesifiek oor die proses wat gevolg is. Die BHL het Trots DF Malan se aansoek om verlof tot appél teengestaan en op 29 November 2023 het Regter Henney verlof tot appél gedeeltelik toegestaan op die eerste en vierde gronde soos hierbo genoem. Regter Henney het hierdeur dus toegegee dat ‘n ander Hof tot ‘n ander beslissing kan kom ten opsigte van sy besluit dat:
1. die BHL oor die mag beskik om die skool se naam te verander; en dat
2. Trots DF Malan die kostes vir die hersieningsaansoek moet dra.
Trots DF Malan het egter gevoel dat Regter Henney ook fouteer het op die ander twee gronde soos hierbo genoem en het toe ‘n verdere aansoek om verlof tot appél gerig na die Appélhof waarin aangevoer was dat Regter Henney fouteer het deur te bevind dat:
1. die prosedure wat die BHL gevolg het redelik en regverdig was; en dat
2. die besluit van die BHL om die naam te verander rasioneel was.
Hierdie punte handel spesifiek oor die proses wat gevolg is. Die BHL het ongelukkig hierdie aansoek ook heftig teengestaan en op 23 Augustus 2024, in ‘n nagmerrie uitspraak vir die BHL, het die Appélhof aan Trots DF Malan verlof toegestaan om op al die gronde, soos versoek, te appélleer. Die Appélhof het dus hiermee te kenne gegee dat ‘n ander Hof ook tot ‘n ander besluit kan kom dat:
1. die prosedure wat die BHL gevolg het nie redelik en regverdig was nie; en dat
2. die besluit van die BHL om die naam te verander nie rasioneel was nie.
Hierdie uitspraak baan die weg vir die Appélhof om die onbillike proses, waartydens deelnemers nie openlik oor die naam kon praat nie en waarna ‘n besluit geneem is sonder enige aanbevelings van die taakspan oor die naam, of oorweging te skenk aan die verslag wat gehandel het oor die gespreksessies (waar die naam nie op die agenda was nie), onder die loep te neem.
Trots DF Malan is uiters positief oor die vooruitsigte vir voorgaande.
Regter Henney se uitspraak het reeds bevestig dat Trots DF Malan die reg het om die saak te bring (locus standi het) en dat die BHL se optrede moes voldoen aan die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid. Laasgenoemde wetgewing bepaal uitdruklik dat substantiewe konsultasie oor die naam moes geskied het.
Trots DF Malan se appél en betoogshoofde ten opsigte van dié deel van Regter Henney se uitspraak wat handel oor die BHL se magte om die skool se naam te verander en kostes is reeds geliasseer.
Die BHL het in die aanloop tot Trots DF Malan se verdere aansoek om verlof tot appél op die twee gronde wat nie toegestaan was deur Regter Henney nie, alles in die stryd gewerp om die aansoek te opponeer. Die alternatief sou wees vir die BHL om bloot by die appélhof se uitspraak te berus het, maar op advies van hul regspan het hulle voortgegaan om te opponeer, en misluk.
Die vraag moet gevra word hoe lank skoolfondse nog aangewend gaan word vir ‘n hofsaak wat reeds honderde duisende rande aan koste beloop en wat voorkom kon word indien die skoolgemeenskap openlik oor die naam kon praat, of die applikante se uitnodiging vir verdere gesprekke aanvaar sou word.
Ten slotte wil die applikante die ouergemeenskap motiveer om nie die knie te buig voor die kansellasiekultuur (“cancel culture”) van die dag nie. Die gevolge van voorgaande het reeds uitgespeel by Universiteite en voorspel niks goeds nie.