03/06/2026
Ons het eers onlangs van Estelle van Dyk (nee Verster) (mx 1976) se afsterwe verneem en wil graag ons opregte meegevoel betuig aan die familie, vriende en almal wat haar geken het.
Estelle het n graad in politieke wetenskap en publieke administrasie aan SU verwerf. Sy was vir baie jare betrokke in Landbou in die Overberg. 2018 word sy as Voorsitter verkies van die Overberg Distrikslandbouvereniging.
Estelle (Verster) van Dyk
Hoofdogter 1976
20 Februarie 1958 – 6 Junie 2025
Huldeblyk gelewer by lewensviering. 15 Junie 2025.
Carine Janse van Rensburg
“O Captain! my Captain!”
Our Captain!
“Your fearful trip is done.”
As ek jou maar so in die rooitaal in die woorde van die Engelse digter Walt Whitman mag groet, Stella, maat van amper 60 jaar.
Want dis wat jy vir my, vir óns was. Leier, leidsvrou, wegwyser, kompas, gids, koershouer, gesagsfiguur, voorvatter; nóóit naprater, jabroer, draadsitter, semelbroek met ’n jansaliegees nie. Veel eerder vuurvreter-heethoof, ja!
Ek het gedink dit sal maklik wees om ’n huldeblyk aan so ’n besondere mens te bring, want daar is so baie om te sê. Maar ek moes tot die ontstellende besef kom dat dit juis jou spesiaalgeit is wat dit moeilik maak. Niks wat ek probeer neerpen het, kan reg laat geskied aan die méns wat jy was nie. Woorde is só ontoereikend. En nou is jy só onbereikbaar.
Daarom gee ek vir jou ’n paar woorde van ons Larrie-groep – woorde wat probeer saamvat wie en wat jy vir ons was:
Ystervrou. Dinamiese bondel energie. Borrelende gees. Gasvry, positief, entoesiasties, lewenslustig – méér as dit: lewensgúlsig. Altyd gereed om iets nuuts aan te pak. Met ’n oop hand, ’n hart vol omgee en ’n heerlike humorsin. Jou motto: “Wees goed vir ander. Dis hoe ek wil leef.” Dit ís hoe jy geleef het.
Bowenal was jy ons en jou al jou hartsmense se anker, ons superglue.
Lana skryf:
Stella
Die kind wat ek was
is so lief vir jou.
Die vrou wat ek is
waardeer jou so.
Ek wens ons kon nog
eenmaal gesels.
Jou sagte diep stem
nog eenmaal
vir my sê
jy is okay –
die Withond het sy ding
gedoen.
Jou stapskoene wag.
Jou kant van Gert se bed
is leeg.
My maatjie ek hét onthou –
aan jou gedink die 14de.
Gevra hoe als afgeloop het
die 15de en die 17de
en weer en weer,
maar jou stem was stil.
Toe het ons gehoor jy veg.
Ai girl, geglo jy gaan
die ding wen.
Ek’s so jammer Stel,
dat jy nou moes gaan –
maar so blessed;
ek het jou so lank
in my hart kon dra.
Ek dra my pês hanskoene
net vir jou.
Uit die verre Noorde skryf Santi oor julle onvergeetlike kuier in Krokodilbrug en in Satara op die houtdek van die restaurant, van die lag en gesels wat sy altyd diep in haar hart sal bêre en hoe verslae sy steeds is ...
Ons almal is ...
Ons groet jou vandag met diepe dankbaarheid vir die mens wat jy was.
Ons staan vandag ook stil oor jou stlte, want, soos Boerneef sê, “dis eers wanneer iemand stil raak, dat jy hoor hoe diep hulle in jou was.”
Daardie ondraaglike stilte is wat julle nou daagliks beleef, liewe Gert, Elaine en Nico, julle kinders, Mieke, Jannes, Janke-Mari; Michilina (Kolle) en Barto en julle kinders Misha, Maja en Mia; Wessel en Janneke met klein Luka en Luan, en Ma se naamgenoot, Estelle, Bytjie. Ook Riana en Adelle. En ek weet met elke herdenking van ’n spesiale dag, vou die oorverdowende stilte jou wéér rasend toe, spoel die verlies soos ’n tsoenami-brander jou weer en weer óm, vra jy weer hoekom, hoe kon dit gebeur het. En al jou gesoek na antwoorde stuit op die onherroeplike werklikheid: Sy is weg.
As ons Larrie-maats se seer so groot is, hoeveel te meer julle s’n!
Maar, Stel, jy was hier.
Jy was gelief.
Jy sal onthou word –
– in herinneringe wat lig bring selfs ná die dood, want die stilte na die dood is nie leeg nie – dit is vol herinneringe van liefde, stories, lag, sagte aanrakings. En die spore van jou herinneringe lê diep oor ons harte; daarom skryf ons jou naam, in die woorde van Sheila Cussons, “nie in die stof van vergetelheid nie.”
Hoe dankbaar is ek dat die vonkel van wellewende jeug nooi uit jou verdwyn het nie.
Jy was die mens saam met wie ek, en ek glo elkeen van ons, oorlog toe sou gaan, Stel. Ek verwoord dit met die volgende beskeie versie uit my pen:
met jou
vaar ek vreesloos
deur die diepste waters
tot by die verste
skoonste strande
aan ongekende kuste
met jou
loop ek onverskrokke
elke gevaar storm
met jou
veg ek oorloë
loop ek oor kole
swem deur ysseë aan pole
spring ek oor mure
en klouter kaalhand teen rotse uit met jou, liefste maat, my kameraad
In Hamlet groet Horatio sy sterwende vriend, die prins van Denemarke. Ons groet jou, vir oulaas, in sy woorde:
“Now cracks a noble heart. Good night, sweet prince/princess, and flights of angels sing thee to thy rest”.
Landou-weekblad se huldeblyk aan Estelle:
https://www.landbou.com/leefstyl/landbou-in-overberg-verloor-n-kampioen-20250624-0805
01/06/2026
01/06/2026
25/05/2026
25/05/2026
13/05/2026